You

Vriendskap, Vergifnis en Vertroue

My vriendin met wie ek met my hele hart vertrou het, skinder van my. Wat nou?

Sy is moeg, sy het seer en sy het nie veel meer oor om te gee nie. Sy vertrou vriendinne, maak oop, deel haar hart en weereens is dit iemand wat van haar kom steel het, eerder as om te ondersteun en op te bou. Dis al die hoeveelste een wat haar vertroue verbreek, die hoeveelste een wat sy toegelaat het om te vertrou en hier is sy weer by die stop straat en daar’s net een straatlig wat skyn.

Here, help my om nou die afdraai te vat wat my vir eens en vir altyd sal lei na die straat van hoop. Die straat waar U stem duidelik is en waar U vriendskap genoeg is. Ek wil nie weer terug draai na die straat van haat, skindertaal, verkeerde vriende en n wêreldse manier van doen nie. Ek kies U van nou af eerste in alles, help my om nie met my hart op my mou te loop nie en as ek weer in die strik trap, asb help my om vinnig genoeg na U stem te luister. Keer my om die verkeerde mense te vertrou en help my om die mense wat my seer maak te vergewe. U bly my beste vriend en ek prys U dat U my nooit in die steek laat nie.

Psalm 118:8 - 
“Dit is beter om by die Here 
te skuil as om op mense te 
vertrou”. 

Dit is belangrik om gesonde vriendskappe te hê. Daar is wel n fyn lyn tussen iemand wat net by jou wil kom steel, om al jou geheime uit te vind en dit te verklap met ander en om ‘n “genuine” vriendin te hê wie daar vir jou sal wees as jy 2 uur die oggend haar wakker bel. Ons moet God vertrou om die regte vriendinne toe te laat in ons lewens en 100% seker maak by Hom oor ‘n vriendskap.

Spreuke 18:24 - 
Vriende kan mekaar verwoes.
Daar kan ook 'n vriend wees wat 
nader aan jou is as jou eie broer.

“Sout en suiker lyk dieselfde,

wees versigtig

vir wie jy vertrou”

– Vriendskap Flentertjies

5 Maniere hoe om ‘n Vriendin te Vergewe wanneer julle Vriendskap in n skinderstorie uitgedraai het

1. Jy’s meer as n vriendin werd

Weet dat die fout nie by jou lê nie. Mense gaan altyd opinies hê, jou seer maak en nie die beste vir jou gun nie. Of dit is omdat die groen monster van jaloesie deel is van menswees of omdat daar satisfaksie verkry word om gereeld ander mense te bespreek en te beskinder, dis lewe en ‘n lelike realiteit.

“Wanneer mense van jou skinder, beteken dit,

Jy leef, Jy tel, Jy maak golwe, Jy is belangrik!”

Dis nie jou skuld dat daar van jou geskinder word nie, maar jy kan wel kies hoe jy daarop gaan reageer. Vir sommige mense is dit n fokuspunt om in kompetisie met ander te leef. Bly ver weg van hierdie leefwyse. Daar is ‘n lelike gewoonte wat by sommige meisies die rondte doen. Om beter te wees as die ander een is deesdae die in ding. Kompetisie staan in die pad van lief hê en die lewe voluit geniet.

Skyn jou lig ten spyte van wat jy weet die een wie jy vertrou het, van jou sê. Draai die ander wang en wees n vriendin vir die mense wie God in jou lewe plaas. Die mense vir wie God wil hê jy ‘n vriendin moet wees, wat jou vriendskap nodig het en gaan waardeer.

Wees ‘n vriendin, wees oop om nuwe mense te ontmoet maar bewaak jou hart. As God vir jou vrede oor n vriendin gee met wie jy jou vriendskap kan deel, luister na Sy stem, Hy weet wie jy nodig het op jou pad.

Not everyone will have the heart you have. Not everyone will appreciate you and what you do for them. Sometimes it wont be easy having a kind heart in a cruel world. Be prepared

— Tony Gaskins

2. Fokus op die handjie vol mense wat die beste in jou uitbring

Jy het n keuse om te mag kies met wie jy jou energie en tyd wil spandeer. Om ‘n string vol vriende/vriendinne te hê is lekker, maar die mense met wie jy jou hart deel is belangriker. Daar gaan heel waarskynlik net n handjie vol vriendinne wees wat jou gaan verstaan, gaan ophelp in moeilike tye, saam met jou gaan lag, saam met jou gaan huil en jou hart gaan hoor as jy die telefoon optel. Maak tyd vir die vriendinne wat altyd daar is. Bou mekaar op, bid vir mekaar en moenie die een oordeel as sy misluk het nie. Wees eerder die vriendin wat lojaal bly ten spyte van die seer wat jy al ervaar het in vorige vriendskappe.

“Vriendskap is nie oor wie jy die langste ken nie. Dis oor wie in jou lewe ingeloop het en gesê het: Ek is hier vir jou, en dit bewys het!

Koester die vriendin waar jy nie hoef skuldig te voel as jy afpak wanneer die lewe te swaer raak nie en waar jy jouself kan wees. Daar is goeie vriendinne daar buite en moenie almal om dieselfde kam skeer as ‘n paar jou al in die steek gelaat het nie.

“n Vriendin kan soos n sussie word,

wat God vir jou kies”.

Om n vriendin te hê wat soos n sussie voel is van onskatbare waarde. Om saam te kan lag, n glasie wyn sonder afspraak te kan gaan drink of sommer net mens te wees, dis kosbaar.

Jy het nie ‘n sekere aantal vriende nodig nie, net vriende waaroor jy seker kan wees” – Fynbos vrou

3. Aanvaar dat almal nie van jou gaan hou nie

Dis moeilik om te dink dat vriendinne hulle rug op jou draai, ewe skielik was jy ‘n hartsmens en nou word daar van jou geskinder. Sommige vriende kom en gaan. Daar kan ook vriendinne wees wat net vir sekere seisoene in jou lewe geplaas word om jou deur sekere tye te dra. 

“You are not designed for everyone to like you”

Skinder is deel van ons vleeslike menswees en hoe vinniger jy gaan aanvaar dat almal nie van jou gaan hou nie en iets “goed” oor jou gaan sê nie, hoe gouer gaan jy jouself vrymaak van hierdie lelike manier van doen. Sien negatiewe kommentaar as ‘n positiewe manier om na die lewe te kyk.

“Skinder is soos lekker kos.

Mense sluk dit so maklik”.

Almal se intensies is nie altyd suiwer nie en dis maar hoe die lewe werk. Almal gaan nie alles vir jou gun nie en jy kan nie ‘n vriendin vir almal probeer wees nie.

“Vals mense skinder oor als en almal.

Opregte mense bepaal hulle by hulle eie besigheid”

Daar is ‘n plekkie vir almal onder die son. Om die son van die ander een te probeer steel gaan jou niks in die sak bring nie. Om ‘n ander vrou te help wen, haar aan te moedig, te bid vir haar en met haar jou lewenservaring te deel gaan nie wegvat van die seëninge wat God vir jou het nie. Moedig eerder mekaar aan en gun die plekkie in die son vir die mense rondom jou.

“Let’s root for each other

and watch each other grow”.

“Confidence has no competition.”





4. Leef in vrede

Om n wrok teenoor iemand te hou gaan jou nêrens bring nie. Om in haat rond te loop gaan steel van al die geluk wat God vir jou wil kom gee. Jy gaan net swaerder dra en sonder vrede leef. Dis belangrik om jou vervolgers te vergewe en in vrede met hulle saam te leef al is dit hoe moeilik. 

“Fools take a knife and stab people in the back.

The wise take the knife, cut the cord & free themselves from the fools!”

Daar is sekerlik vriendskappe waar jy seer ervaar het en teleurstelling. Dis beter om nie verder aan die teleurstelling vas te klou nie en om jouself vry te maak daarvan. Dit gaan ook nie help om ‘n muur op te bou sodat jy nie weer iemand sal toelaat om te vertrou nie. Jy is nie gemaak om alleen deur sekere situasie in jou lewe te werk nie. Jy het ‘n vriendin nodig wie God vir jou wil gee om te vertrou. Laat Hom toe om die seer van vorige vriendskappe te kom genees en jou toe te laat om die regte vriendin ten volle te vertrou.

5. Bly liefde saai

Ten spyte van wat jy weet daar van jou gesê word wat nie waar is nie, kies God se manier en saai eerder goeie saad as om saad te saai wat kwaad gevoelens bring en geen groei nie. Bid vir jou vervolgers en bid vir die mense wat jou seermaak. 

“Om een goeie vriendin in ‘n leeftyd te vind is geluk, maar om so vriendskap te behou is n wonderlike seëning”.

Ten spyte wat jy ervaar as dit by vriendskap kom, onthou dat God is liefde en Hy het ons opdrag gegee om mekaar lief te hê. Al is dit vir jou hoe moeilik om die een lief te hê wat slegpraat agter jou rug, is dit beter om daardie persoon met liefde te hanteer as met haat. As God in jou leef gaan dit vir jou maklik wees om in die liefde te lewe.

1 Johannes 4: 7-16 -
Laat ons aanhou om mekaar
lief te hê, want liefde kom uit 
God. Enigeen wat liefhet,
is 'n kind van God en ken God.
Maar elkeen wat nie liefhet nie,
ken God nie, want God is liefde. 
Almal wat in die liefde lewe, 
leef in God
en God leef in hulle.

Sy het op haar knieë gebid en sy het vrede ervaar. Sy besef weer waar haar vertroue lê en wie haar belange op die hart dra. Sy kan lief hê en met vrede na haar medemens kyk omdat sy vergewe het en vrede gevind het met haar seer. Sy vind haar vertroue in die Here en sy skyn anders as vantevore. Dis die lewensles wat haar vrygemaak het van die teleurstelling wat sy in ‘n vriendskap ervaar het. Sy luister nie meer na skindertaal nie en sy straal juis liefde uit na die een wat van haar skinder. Sy kyk anders na vriendskappe en sy koester die vriende wat altyd daar vir haar is.

Sy kan weer leef, sy kan weer vertrou, sy is vry.


Gedagte vir die dag:

Breek af die bande van haat, skindertaal & jaloesie. Wees n “genuine” vriendin en moenie ophou om liefde te saai nie. Die wêreld het jou vriendskap nodig.

“n Vriend wat begrip het vir jou trane, is baie meer werd as n klomp vriende wat net jou glimlag ken”.

Silwerwoorde

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *