You

‘n Reenboog vol hoop

Vandag is daar geen “fancy” woorde nie. Vandag is nie geskryf vir woorde van selfbejammering nie, dis realitiet, dis lewe, dis seer, dis verlies wat ons almal in die gesig staar een of ander tyd.

Mamma/pappa, ouma/oupa, tannie/oom, boetie/sussie,kind…. Die dood kom skielik. Om iemand aan die dood af te staan, ‘n herdenking of verjaarsdag te vier, is verseker een van die moeilikste en seerste seer. Die pen wat ek vandag optel is geskryf vir enige iemand wat iemand aan die dood moes af staan. My woorde is uit ‘n kinderhart geskryf, ‘n hart wat al seer ervaar het, verseker nie die seer waardeur jy moet gaan nie. My pen gaan nie al die woorde hê wat jy graag wil lees nie, maar vir ‘n kort rukkie, leef jouself in hierdie kinderhart in. Mag hierdie woorde ‘n mate van vertroosting en vrede vir jou seer en verlies bring.


Vandag is dit jou verjaarsdag en vandag wil ek die pen optel en skryf totdat die ink op is.

Dis ‘n doodgewone Vrydag middag, die radio speel lekker naweek musiek, die son is amper onder en die foon lui. ‘n Oproep wat jy uit die bloute ontvang wat sê dat jou geliefde sy/haar laaste asem uitgeblaas het. En dis asof jou hele wêreld handomkeer verander. Dit kan nie wees nie, dit voel asof jy droom. Hierdie woorde kan nie werklikheid wees nie…

Die skok, teleurstelling en onophoudelike boodskappe van, “Ek is jammer vir jou verlies, ek bid vir jou”, die mense wat by jou huis opdaag om te kom saam treur, dit voel alles so onwerklik. Dis asof “jy” enige oomblik by die deur gaan instap en sê dit was alles net ‘n droom. Dis die deurmekaar gevoel wat wemel hier binne jou, die onbeantwoorde vrae, seer en leemte. Jy kan net-net jou kop optel om nog ‘n oproep te antwoord, nog ‘n boodskap te lees van rou, simpatie, empatie en bemoedigende woorde.

Ewe skielik word die boodskappe al minder, die oproepe al minder en dis die vier mure wat vir jou lê en staar met jare se herinneringe van ‘n geliefde wie jy aan die dood moet afstaan. Dis wanneer die lewe moet “aangaan”, wanneer realitieit jou in die gesig staar en jy met ‘n swaar las, nie sommer net kan “aangaan” nie.

Dit voel of ‘n storm jou tref en dis net reën druppels waar jy kyk. Jy was vir lank genoeg “okay” gewees en jy het vir lank genoeg die trane binne gehou. Die opbou van emosie, seer en verlange breek soos ‘n wolkbreek in jou hart en dis net trane oral waar jy kyk. Die wolk van seer het te swaar geraak en die reëndruppels stort in jou hart. Die wond is oop, wa-wyd oop en daar is geen medikasie wat jy nou kan drink om dit vinnig te laat genees nie. Die reën daar buite, herinner jou aan jou eie seer.

Dis asof die aarde saam huil wanneer dit reën. Die wolke dra saam aan die verlies en die seer wat jy in jou binneste voel. Met alles in jou, wil jy diep onder die komberse inklim, die warmte ervaar, na die klank van die reëndruppels op die dak luister, sodat jy nie meer na jou eie gehuil hoef te luister nie. Die reën druppels wat daar buite val, bring ‘n mate van vertroosting om saam met jou te treur.

Dis asof die reën verstaan, jou woorde is min maar die trane praat vanself. Dis die reuk van die reën wat my herinner aan jou menswees hier op aarde. Die varsheid, die leemte, die herinneringe. Jy was te vinnig van ons weggeneem, jou lewe was te kort op aarde. As jy net nog ‘n rukkie langer vir ons gespaar was.


Dis die gedagtes en herinneringe wat in jou kop rond maal. Ek glo die engele daar-bo in die hemel vier jou lewe elke dag, lag en dans saam met jou. Jou menswees word gemis hier op aarde, hoe gaan mens net aan sonder jou glimlag? Hoe maak mens die boek toe waarin jy soveel hoofstukke van vreugde kom skryf het? Die lewe voel anders en leeg sonder jou.

Net vir n kort rukkie wil ek nog n bietjie in die bed lê en luister na die reën daarbuite. Ek wil droom oor jou tye op aarde, die oomblikke, herinneringe en jou manier van doen nes jy kon. Die manier van praat nes jy kon. Ek wil jou lewensreis oor en oor herhaal in my gedagtes. Jou kamer staan leeg, ons harte is leeg. Ek wens ek kan ‘n foto optel en nie die mes van verlange in my voel steek nie. Ons is jaloers op die engele daarbo“.

Psalm 121:1-2
Ek kyk op ba die berge:
waarvandaan sal daar vir my
hulp kom?
My hulp kom van die Here wat 
hemel en aarde gemaak het.

Die reën daarbuite is skielik verby, maar die wolkbreek in my hart hou aan. Ek besef dat die reën nie vir altyd gaan saam huil nie en al wat ek nou hoor is die gehuil van my eie trane. Dis al dae, maande en steeds bly die trane en seer so vars soos die dag toe ons die nuus ontvang het. Ek klim uit onder die komberse net om te gaan loer of die reën nie dalk nog ‘n bietjie langer gaan aanhou nie. Ek sien die reënboog in die lug.

Ek kyk op na die reënboog en ek besef dat jou wens vir ons sou gewees het om aan te hou – Voluit Leef! Dat daar wel mooi uit hierdie seer sal kan kom en dat daar wel vrede lê en wag om hierdie seer te verwerk. Die kleure van die reënboog is so helder, nes jou menswees was.

Dis asof die reënboog weer nuwe hoop bring en ek weet dat ek môre weer sal kan opstaan, die trane sal kan afdroog en nuwe hoop sal hê. Ek sal vir jou part aanhou voluit leef, die lewe geniet en my eie roeping op aarde vervul soos God dit vir my bestem het. Jy los soveel lewenslus vir ons agter, ons sal aan dit vasklou en elke dag voluit leef soos jy het. Dit maak die seer nie makliker nie, maar ek sal probeer om my alles te gee. Vir altyd in ons harte tot ons weer sien.

Die hemele het neergedaal en

‘n engel is kom haal.

Ons weet nou, net God kan ons

lewensreis bepaal.

Dit was geleende tyd saam met jou,

ons sal elke herinnering in

ons harte toevou.

Van harte wen, lekker lag, geselsies bou,

tot kindertjies gelukkig hou…

Sal ons jou lewenslus vir altyd onthou.

Elke mooi herinnering sal bly,

met vertroosting & vrede,

sal ons hulp van bo kry.

Jy los ons met soveel wysheid,

positiwiteit & nederigheid.

Ons monde sal aanhou getuig

van jou

glimlag & liefdevolheid.

Die lewe is leeg sonder jou,

met geloof & hoop sal ons getrou

aan God vasklou.

Met harte van seer,

sal ons belowe om met

oorgawe te bly leef.

Terwyl jy saam met al die

engele daar-bo,

in die hemele sweef.

Jou roeping is vervul.

Weet net, ons sal jou nooit vergeet.

Tot ons eendag weer sien,

In die hemele,

waar jy alle geluk verdien.


Geen woorde sal ooit genoeg wees om die seer te genees wanneer jy iemand moet groet – aan die dood moet afstaan nie. Elkeen verwerk seer anders, elkeen het ‘n spesiale band met iemand en herinneringe waaraan hulle vasklou. Ons stap verskillende paadjies met die mense rondom ons. Jy “click” met iemand of deel herinneringe op verskillende maniere. Om aan een herinnering vas te klou, of jare se herinneringe, elkeen rou anders en elke traan word vasgevang.

Weet dat wanneer jy iemand aan die dood moet afstaan, geen iemand daardie leemte hoef te vervul nie, geen boodskap gaan genoeg vertroosting bring nie. Jy hoef nie dadelik aan te gaan met jou lewe en te maak asof niks fout is nie. Jy mag rou, jy mag vrae vra en jy mag voel soos wat jy voel. Daar is wel medikasie wat jou seer kan kom genees en dit is God.

Klou vas aan die reënboog en weet dat God se heerlikheid op al jou seer skyn. Hy is ‘n getroue God en Hy is al een wat jou seer kan kom genees. Klou vas aan elke liewe dag wat vir jou geleen is. Klou vas aan die reënboog wat weer hoop en kleur in jou lewe bring.


Ons bekommer ons oor die dag van môre, die aardse “nonsense” wat ons tyd opverg en ons vergeet om te lewe. Ons vergeet dat dalk is vandag ons laaste of dalk is vandag iemand anders se laaste dag op aarde. 

Leef voluit! Kies lewe, kies om voluit te leef! Streef daarna om nie in die negatiewe “pitty” goedjies vas te kyk nie en “embrace” elke dag asof dit jou of iemand na aan jou se laaste dag is. Die vernuwing van jou denke gaan jou laat besef hoe kort die lewe is en hoe kosbaar die mense rondom jou is. Laat staan die konflik of onnodige rusie en waardeer almal en alles rondom jou. Maak jou oë oop en sien die nood en seer in ander se lewens raak. Jy weet nooit hoeveel tyd vir jou of jou geliefde geleen is nie.

Klou vas aan pappa God se oneindigende liefde vir jou. Hy is goed, hy bly goed al moet jy seer en verlies op een of ander manier verwerk. Alles wat ons het is genade, die geliefde wat vir jou geleen word op aarde, is genade.


Mag jy vertroosting vind, mag jy as ouer, sussie/boetie, ouma/oupa, tannie/oom, kind… Vrede vind. Mag die mense rondom jou, jou ondersteun en ophelp wanneer die herdenkings gevier word en jy nie jou kop kan optel nie want dis nog te seer. Mag die Here jou ekstra krag gee en jou versterk. Mag jy weet dat jy nie alleen is nie en mag jy aanhou hoop hê vir die dag van môre. Mag die reënboog genesing, nuwe kleur en hoop in jou lewe bring.

Liedjies vir vertroosting:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *