You

‘n Feesmaal propvol vreugde, refleksie, familie, vriende, & dankbaarheid

Dalk was 2021 vir jou een van die moeilikste jare wat jy al ooit ervaar het, God se voorsiening hierdie jaar het dalk heel anders gelyk as wat jy gehoop het of dalk het dit vir jou gevoel of jy heel jaar op die top-punt van die berg staan en ‘n oorvloed van guns ervaar.

Jy was dalk een van die baie, wat ‘n geliefde aan die dood moes afstaan, siekte het jou oorval, jy het finansiële probleme ervaar, miskien jou werk verloor, ‘n vriendin het jou dalk in die steek gelaat en dit het vir jou gevoel of alles heel jaar verkeerd loop. Of, jy was dalk een van die min, waar dit vir jou gevoel het of jy oor niks kan kla nie, jy het heel jaar guns ervaar, gebede is beantwoord, jou wildste drome het waar geword en jy het die heel beste oomblikke ervaar.

Wat ookal jou ervaring hierdie jaar was, dis gesond om te reflekteer oor die hoogtepunte en negatiewe punte van jou 2021. Skryf neer die lesse wat jy geleer het, die moeilikste oomblikke, die lekkerste oomblikke en 10 dinge waaroor jy dankbaar is. Reflekteer oor jou 2021, haal daaruit wat nodig is, kyk nie weer terug nie en kyk met ‘n hoopvolle perspektief na 2022 wat voorlê.

Die belangrikste wat ons almal deel is LEWE, om te kan lewe en om nog ‘n vol lewe te kan hê.

Die berge wat ons op ‘n daaglikse basis moet uitklim is nooit te groot nie, dit mag dalk vir jou voel of jy nie sterk genoeg is om dit te kan hanteer nie, maar begin nou na berge kyk met ‘n nuwe perspektief. Die berge word daar geplaas om jou te leer, te laat groei en daar lê fonteine van vreugde weggesteek as jy jou eie plan laat gaan en God ten volle vertrou met Sy plan vir jou lewe.

Die tyd op aarde is geleende tyd, die mense in jou lewe word vir jou geleen, elke dag op aarde word vir jou geleen, dit wil sê alles wat jy het is genade, alles is genade!

Die mees waardevolste les van 2021 vir my, was om nie vooropgestelde idees/drome/verwagtinge te hê nie. Dit bring teleurstelling en dit neem die visie weg wat God in gedagte vir jou lewe het. Om Hom te vertrou met alles in jou lewe is die sleutel tot geluk & vreugde. Gebruik elke dag wat vir jou geleen is & benut dit met oorgawe. Bid vir die kleinste geringste ding in jou lewe en vertrou God se plan, nie jou eie nie. Lewe VOLUIT asof môre regtig nie gewaarborg is nie.

Vergewe jouself vir die foute wat jy gemaak het in 2021, vind vreugde in die wete dat jy wel nog die voorreg het om te kan asemhaal & sê vir God dankie vir elke berg wat jy moes klim waar Hy elke sekonde by jou was. Lê jou drome by God se voete neer & leer om te DANS in die DONKER!


Samesyn,

Familie, Vriende

&

‘n Feesmaal

Die kerstyd is om die draai, dalk spandeer jy dit hierdie jaar met ‘n paar vriende, ‘n paar familie lede of dalk is jy een van die min families wat die voorreg het om die hele familie onder een dak te kan hê hierdie jaar. Maak moeite met mekaar & sluit die jaar af op ‘n positiewe noot. Reik uit na die behoeftiges of bid vir die wat deur ‘n moeilike tyd gaan. Dek die tafel, laat elkeen ‘n bydrae tot die kers-spyskaart maak, nooi ‘n paar vriende/familie oor en vier die LEWE!

Hier volg ‘n paar maklike, moet hê resepte vir jou Kers-Spyskaart wat oor die jare opgebou is deur ongelooflike mammas, oumas, tannies, sussies en vriendinne.

‘n Paar fenominale vrouens deel hul gunsteling resep vir die kerstafel wat heerlik is vir ‘n Kers-Feesmaal!

KERS-SPYSKAART VIR 'N FEESMAAL

ROMERIGE BILTONG SOP

(Skoonma Elmarie se resep)

1/2 margarien
10ml swart peper
2ml fyn neut
2ml fyn koljander
1 Pakkie gerasperde Cheddar kaas
100g fyngekerfde klam biltong
1 koppie Koekmeel
500ml melk
1.5 liter hoender aftreksel
Room/ Port na smaak

METODE
– Smelt botter, voeg meel by asook speserye en roer.
– Meng melk en aftreksel, roer stadig by. Roer totdat dit verdik.
– Haal af van die stoof en voeg kaas & biltong by.
– Moenie weer kook nie. Roer room/port by na smaak.


LEKKERSTE TUISGEBAKTE BROODJIE

(Mamma Klippie se resep)

750 ml Bruismeel
125 ml Suiker
340 ml Bier
1 Pakkie Uie sop poeier

– Meng alles goed saam en plaas in gesmeerde broodpan.
– Bak Ongeveer 1 uur By 180ºC.


BOTTERSKORSIE & KORING SLAAI

(Vriendin Anneke se resep)

250ml koring
500g botterskorsie in klein blokkies gesny
15ml olyfolie
Sout en gemaalde peper

SLAAI
1/2 rooi-ui in dun skyfies gesny
10g basilie kruid
500ml pitlose druiwe, gehalveer
2 wiele fetakaas, in blokkies gesny
1 blik bruinlensies afgespoel en gedreineer

SLAAISOUS
60ml appelasyn
60ml olyfolie
20ml heuning
1 knoffelhuisie fyn gedruk
10ml Dijon-mosterd
20g pietersielie gekap

VIR VOORSIT
60ml pampoenpitte gerooster

METODE
– Voorverhit die oond tot 190 grade. Spuit ’n bakplaat.
Koring & botterskorsie – Maak die koring gaar volgens aanwysings op die Pakkie. Spoel af, dreineer en hou eenkant.
– Versprei die botterskorsie op die voorbereide bakplaat. Drup die olie oor en meng met hande deur. Geur na smaak met die sout en peper. Rooster 20-30minute of tot gaar.
Slaai – Skep die koring en botterskorsie in ’n groot mengbak en voeg al die ander slaaibestanddele by. Meng Liggies.
Slaaisous – Klits al die sousbestanddele saam en giet oor die slaai. Meng Liggies deur en geur na smaak met sout en peper.
Vir voorsit – Sprinkel die pampoenpitte oor en sit voor. Hierdie is ‘n “go-to” slaai vir enige geleentheid!


HEERLIKE ERTJIE SLAAI

(Mamma Klippie se resep)

Bevrore Ertjies
Mayonnaise (Nola se Sandwich Cream verkieslik)
Gerasperde Kaas
Seldery in ringe gesny en 1 ui in stukkies gesny
Blaarslaai in repies gensy
1 Green pepper in repies gesny

METODE
– Pak die lae van onder af. Begin met die blaarslaai, dan ’n laag seldery, ’n laag greenpepper, ’n laag bevrore ertjies en dan smeer dan die mayonnaise oor. Gooi nou kaas bo-oor.
– Herhaal die lae totdat die slaaibak vol is & eindig met die gerasperde kaas.
– Laat staan in die yskas.


FANTASTIESE PYNAPPEL SLAAI

(Vriendin Lizaan se resep)

3 blikkies pynappelstukke
1 Blik Kondensmelk
250ml suurroom

METODE
-Gooi sap van pynappels uit.
– Meng pynappelstukke, kondensmelk en suurroom goed saam.
– Sit in die yskas vir so 2ure. Heerlik!


ROMERIGE SPINASIE

(Vriendin Danielle se resep)

500g baba spinasie
2 T botter
1/2 groot ui fyngekap
1 T knoffel
1/2 koppie melk
1/4 koppie room
114g roomkaas
Sout en peper
Bietjie cayenne peper
Bietjie kaneel
1/4 koppie kaas

METODE
– Laat die spinasie kook, gooi sout by die water en kook. Dreineer die water.
– Smelt die botter oor matige hitte in ’n pan, gooi uie by, braai tot dit deurskynend is en gooi knoffel by. Laat kook vir nog ’n minuut.
– Gooi melk, room en roomkaas in die pan. Laat dit prut tot die roomkaas gesmelt is. Geur met sout, peper, cayenne peper en kaneel.
– Gooi die spinasie en kaas by. Meng goed en kook totdat die kaas gesmelt is.


GESTOLDE BEET SLAAI

(Tannie Estelle se resep)

1 Groot bottel ingemaakte gerasperde beet
1 Pakkie rooi jellie
1 blikkie gladde maaskaas
1 blikkie kondensmelk
1 Telepel gelatien opgelos in ’n 1/4 koppie koue water en 10 sekondes in mikrogolf
1/4 koppie suurlemoensap

METODE
Meng die maaskaas, kondensmelk, gelatien oplossing en suurlemoensap saam.
– Spuit ’n ringbak of stolvorm met Spray en Cook.
– Skep die kondensmelkmengsel in die vorm en plaas in die yskas om te stol.
– Wanneer goed gestol is, meng die beet met die inmaak vloeistof met die jelliepoeier en skep bo-oor witlaag, plaas terug in die yskas en laat stol.
– Voor bediening, keer uit op ’n opdien bord en bedien.


ONTBEENDE LAMSBOUD OP DIE KOLE

(Tannie Marietjie se resep)

1 Ontbeende Lamsboud

MARINADE
2 Knoffelhuisies (fyn gekap)
250ml Karringmelk
30-50ml Suurlemoensap
Sout en peper
2ml Tiemie
5ml Oreganum

METODE
-Meng marinade se bestanddele saam.
– Marineer lamsboud sowat 12 uur lank. Braai op kole tot gaar (moet effens pienk aan buitekant wees).
– Terwyl die vleis braai, bedruip met oorblywende marinade en bietjie gesmelte botter.


KERSFEES HOENDER

(Skoonma Elmarie se resep)

1 groot hoender
1pakkie skulp noedels
1 ui gekap
1-3 teelepels kerrie
1 eetlepel asyn
1 eetlepel tamatiesous
3 eetlepels appelkooskonfyt
1/2 k blatjang
1 en ’n halwe koppie mayo

METODE

Kook en geur hoender. Sny in stukkies. Bêre die sous. Kook die noedels. Braai ui, en voeg kerrie by. Voeg res van bestanddele bymekaar en meng alles saam. Laat oornag staan. Voeg aftreksel by indien droog.


FERREIRA GESIN SE SKAAPBOUD

1 Skaapboud
60ml Tamatiesous
60ml Blatjang
60ml Worcestor sous
Braai sout

METODE
– Voorverhit die oond op 190grade.
– Gooi olie onder in ’n braaibak en sit die boud in die braaibak.
– Gooi braai sout oor die boud.
– Meng die volgende – tamatiesous, blatjang, Worcestor sous, en verf dit oor die hele boud.
– Maak die deksel toe en laat die boud gaar word, dit neem nie meer as 3 ure nie.
– Sny die boud en sit voor.


KARAMEL PAMPOEN KOEKIES

(Ouma Magrietha se resep)

3 koppies fyn gaar pampoen
2 eiers
Sout
2 koppies bruis meel
2 teelepels bak poeier.
Kook olie vir die bak.


SOUS
2 koppies suiker
1 koppie water
Halwe koppie melk
2 eetlepel botter of rama
2 teelepels maizena


– Kook alles maak maizena aan met koue melk en roer in sous.
– Jy kan jou pampoen koekies bak met lepels vol in olie. Vat ‘n blikkie caramel kondensmelk, 1 teelepel vanilla of caramel geursel, gooi 4 eetlepels melk by en roer goed deur en gooi dit dan oor jou pampoen koekies.


VINGER LEK-LEKKER TRIFLE

(Tannie Elize se resep)

1 Pak blueberry muffins
1 pak van eie keuse vrugte: blue berries/ raspberries/ aarbeie
1 Blik karamel
1 Houer vars room, styf geklits
1 Liter gekoopte vla

METODE
– Gooi vla om die bodem van die bak te bedek.
– Frummel so 2/3 van die blue berry muffins op die vla.
– Meng die vrugte wat jy het en gooi ’n lagie vrugte oor die muffins.
– Stip teelepels vol van die karamel en styfgeklitse room oral op die vrugte.
– Herhaal weer die lae en eindig met ’n laag vla.
– Versier die vrugte bo-op. Dit is heerlik! (Die vrugte kan vervang word met pitlose druiwe).


AMARULA MALVA POEDING

(Ouma Magrietha se resep)

220 g strooisuiker
2 groot eiers
30 ml gladde appelkooskonfyt
125 ml melk
30 ml botter – margarien
5 ml wit asyn
185 g gewone meelblom (340 ml )
5 ml koeksoda
1 knypie sout

METODE:

-Voorverhit oond tot 180 grade C. Verroom die suiker en eiers met ‘n elektriese klitser totdat dit lig kleurig is, ongeveer 3 -5 minute.
– Klop die konfyt in net voordat dit reg is om met die ander bestanddele gemeng te word.
– Verhit intussen die melk, botter of margarien en asyn in ‘n beker in die mikrogolfoond vir 30 – 45 sekondes totdat dit warm is en die botter of margarien gesmelt is.
– Sif die meelblom, koeksoda en sout ‘n paar keer saam in ‘n bak.
– Vou nou die helfte van die meelblom en die helfte van die verhitte vloeistof in by die eiermengsel, en daarna die ander helfte .
– Sodra dit gemeng is, gooi dit in ‘n glasbak en bak vir 30 – 45 minute totdat dit goed bruin is.
– As die toetspen skoon uitkom, is dit reg.

SOUS
125 ml botter
125 ml room
60 ml suiker
250 ml amarula likeur — (net totdat die sous warm en die suiker opgelos is, moet dit nie laat kook nie).

– Verhit alles saam in ‘n mediumgroot pot oor mediumhitte.
– Haal die poeding uit die oond en maak gate bo in, en gooi dan die sous stadig oor die warm poeding.
– Laat dit in die afgeskakelde oond met die deur effens oop totdat die sous geabsorbeer is, sowat 5 – 10 minute.
– Sit warm voor met vla, room of roomys, HEERLIK!


CREMORA TERT

(Mamma Klippie se resep)

500g Cremora
2 blikke kondensmelk
250ml suurlemoensap
250ml Kookwater
1 Pakkie Tennisbeskuitjies
Flake sjokolade

METODE
-Klop Cremora met kookwater tot klonte opgelos is.
– Klop tot styf en klop nou kondensmelk by. Gooi suurlemoensap by en klop tot styf.
– Pak die beskuitjies in die tertbak en giet die mengsel bo-oor. Rond af met ’n gerasperde flake.
– Verkoel in die yskas.


YSKAS TERT

(Sus Mariska se resep)

250g Cremora
250ml Koue water
Blik kondensmelk
190ml Suurlemoensap
1 pak Tennisbeskuitjies

METODE

-Meng cremora en koue water goed.
– Voeg 1 blik kondensmelk by.
– Voeg suurlemoensap by en meng goed.
– Pak die bak met tennisbeskuitjies en gooi die mengsel oor die koekies
– Krummel koekies bo-oor vir afronding.
– Laat staan ten minste 24h in yskas


Mag jy 2022 ingaan met die wete dat vreugde begin by jouself, binne jou self. Bly elke dag dankbaar, vind geluk in die woestyn & laat jouself toe om te groei, kyk op en weet waar jou hulp elke dag vandaan kom.

Mag jy alle verwagtinge laat staan & bly glo in God se plan met jou lewe. Mag Hy jou oë kom verlig om Hom te kan sien in alles, Hom te ken in alles & mag jou hart gerus wees met die wete dat Hy net aan jou wil goed doen! Mag jy soos ‘n wildsbok baljaar op die berge wat jy moet uitklim & mag jy vreugde vind in die oomblik wat vir jou geleen is.

Hoop vir 2022

Psalm 65: 1 – 14

https://www.bible.com/bible/5/PSA.65.AFR53

“Aan U kom 'n lofsang toe, 
o God, 
en aan U moet 
die gelofte betaal word.”

“o Hoorder van die gebed, 
tot U moet alle vlees kom!”
“Ongeregtige dinge het die 
oorhand oor my gehad, 
maar U versoen ons oortredinge.”

“Welgeluksalig is hy 
wat U uitkies 
en laat nader kom, 
dat hy kan woon in u voorhowe. 

Ons wil versadig word met die 
goeie van u huis, 
die heiligheid van u paleis.”

“Vreeslike dinge antwoord 
U ons in geregtigheid, 
o God van ons heil, 
vertroue van al die eindes 
van die aarde en 
van die verste see!”

“Wat die berge grondves 
deur u krag, 
wat omgord is met mag, 
wat die gebruis van 
die seë stilmaak, 
die gebruis van hulle golwe 
en die rumoer van die volke; 
sodat die bewoners van die eindes 
vrees vir u tekens; 
U laat die uitgange van die môre 
en die aand jubel. 

U het die land besoek 
en oorvloed gegee; 
U verryk dit grootliks; 
die stroom van God is vol water. 
U berei hulle koring; ja, 
so berei U die land. 

U maak sy vore nat, 
sy kluite gelyk; 
deur reënbuie 
maak U dit week; 
U seën sy uitspruitsel. 
U kroon die jaar van u goedheid, 
en u voetspore drup 
van vettigheid. 

Die weivelde van 
die woestyn drup, 
en die heuwels gord hulleself 
met gejuig. 

Die weivelde is bekleed 
met troppe kleinvee, 
en die dale is bedek met koring; 
hulle juig, ook sing hulle.”

‭‭PSALMS‬ ‭65:1-14‬




Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *