You

‘n Vreugde Geroep in die Storm – Uit die Juffrou se pen

As ek vandag die pen optel, mag ek dalk spyt wees. Dalk moet ek eerder net die dagboek wegsteek om nie hierdie hoofstuk neer te pen nie, of dalk moet ek aanhou leef met hierdie warboel van emosies, en ‘n hoofstuk wat vir my swaar & vernederend is om elke dag oop te maak. Ons is somtyds te bang om oor die teleurstelling in ons lewe te praat, dalk gaan ons op iemand se tone trap of dalk gaan niemand ons situasie glad nie verstaan nie.

Dit is so belangrik om “REAL” te wees, om genesing te vind in ons slegste, seerste seer. Skryf is terapeuties en ons hoef nie alleen te dra aan negatiewe situasies nie. Die Here gaan nie dat jy verniet deur ‘n hoofstuk gaan as Hy nie vir jou waardevolle lesse wil leer wat jy met ander moet deel nie.

Okay, as ek die pen optel, gaan ek bid dat dit wat ek vandag skryf, nie uit emosie geskryf word nie, maar uit ‘n doodgewonde juffrou se hart, ‘n baie onregverdige situasie in die werksplek, ‘n juffrou wat lelik benadeel was.

Ek besef ook dat dit tyd is om hierdie hoofstuk neer te pen, om eerlik te wees & om God toe te laat om Sy lig, Sy wil en Sy goedheid hieruit te laat skyn. My ink is min, my hart is swaar, my woorde is deurmekaar/baie, maar die lesse wat ek hieruit kon leer is van onskatbare waarde.

Hier gaan ek, Here, help dat my woorde vrug sal dra en dat dit wat ek vandag gaan skryf, lewe sal spreek in iemand anders se lewe wat dalk deur presies dieselfde ervaring tans gaan of reeds was.

(As jy graag hierdie hoofstuk uit hierdie juffrou se dagboek wil lees, sal ek jou aanraai om vir jou ‘n koppie koffie/tee te maak, dit waarmee jy besig is vir ‘n rukkie te los, rustig te sit en elke woord te lees wat hierdie juffrou-hart ervaar het. Moenie dink dit gaan betekenis dra as jy net deur die woorde “scroll” nie. Los die oordeel vir ‘n ander dag, vandag is hierdie juffrou-hart “REAL”. Jou storie moet gehoor word, jy weet dalk nie hoeveel mense se harte jy aanraak deur te deel hoe jy vreugde ervaar het ten spyte van waardeur jy gaan nie).


‘n Stukkie Padkos in my Juffrou-Dagboek wat ek vir altyd sal bewaar,

‘n Gekwalifiseerde juffrou, met 6 jaar se onderwyservaring, van oorsee skoolgee, tot koor kompetisies wen, konserte reël, kinderharte liefkry… ‘n Juffrou wat altyd haar 200 persent gee in alles wat sy doen, veral as dit kom by die klaskamer. Op sportgebied het sy die netbalspannetjie afgerig en maak nie saak of hulle nie altyd gewen het nie, syt seker gemaak die kinders geniet elke oomblik daarvan. Sien, dit gaan oor die passie, die lekkerte, die kind wees, maar ook weet wanneer om ernstig te wees.

Sy het op kultuur vlak uitgeblink, ‘n paar sang kompetisies gewen en seker gemaak haar koor sing uit hulle harte uit. Van geleenthede aangryp is sy ‘n voorstaander. Sy is bang vir niks!

Sy klim op n vliegtuig en gaan gee skool in die mees vreemdste lande. Sy leer ‘n nuwe taal, ‘n nuwe kultuur aan. Stoksiel-alleen en al wat sy het is die passie in haar hart vir kinders, om elke kind tot sy/haar beste potentiaal te laat presteer. Om ‘n verskil te maak, maar die belangrikste om liefde uit te straal. Daar is nie so iets soos “ek kan nie”, in haar woordeskat en sy maak seker dat elke kind belangrik en aanvaard voel.

Sy raak lief vir die onderwyssisteem oorsee, alles werk, dis harde werk, dis elke dag ‘n uitdaging, maar dis lekker! Sy word aangestel as die hoof van haar afdeling by die skool & die skoolhoof nader haar vir nog meer groter planne vir die toekoms.

Die geld is goed, die leefstyl is beter, die land is veilig, sy hoef nie oor haar skouer te loer of iemand iets sleg aan haar wil doen nie & sy sien omtrent die wêreld, die mooiste gedeeltes van God se skepping. Naweke verken sy die nuwe land met sy nuwe kultuur en nuwe avonture. Sy het die lekkerste vriende met soveel herinneringe wat in ‘n kort tydjie opgebou was.

Sy het geweet dat die avontuurlustige geleentheid tydelik is en haar gebede het bly glo dat God haar ‘n vrou vir haar man gaan maak, ‘n mamma vir haar kinders.


‘n Skole vakansie in 2019, draai toe heeltemal anders uit as wat sy gedink het. Sy raak verlief op haar beste vriend, ‘n Suid Afrikaner. Min wetend, het sy nie gedink haar gebede sal so vinnig beantwoord word nie.

Sy ontvang toe bevestiging dat hierdie die man is wat God vir haar uitgekies het, die man wat haar op haar hande gaan dra & en die man wat haar gaan lief hê soos wat sy verdien om lief gehê te word. Ewe skielik is die bevestiging duideliker as ooit tevore en sy maak die keuse om haar “Avontuurlustige Reis”, op te gee, want liefde is beter as om in ‘n vreemde land te wees sonder die een wat haar hart liefhet.

Getroud, gelukkig & dankbaar, pak sy al haar goedjies oorsee en begin ‘n lewe bou, saam met die man wat sy met haar hele hart liefhet. Hy is ‘n boertjie, dit was waarvoor sy nog altyd gehoop & gebid het.

Sy is bekend met die boerdery & sy het altyd gespot dat sy nie meer kan wag totdat sy haar boertjie gaan trou & haar eie plaaskombuis sal kan hê met potte wat heeldag kook nie. Dit was letterlik wat sy wou doen, trou, kinders kry, haar man versorg & vir altyd gelukkig wees.


Opsoek na onderwysposte, CV’s uitstuur, bekommerd oor haar werk situasie terug in Suid-Afrika, kom daar ‘n oproep deur van ‘n tannie wat weet waarheen sy haar CV kan stuur.

Dis ‘n pos wat oop gegaan het by ‘n plaasskool in die Oos-Kaap, naby genoeg vir haar om te ry en sy doen toe dadelik aansoek. Dis boonop ‘n “departementele pos” en daarom was die afwagting ekstra groot. Nog ‘n droom wat binnekort waar gaan word. Sy kan nou haar voete vestig, getroud, en in haar eie land haar onderwys passie uitleef.

Sy doen aansoek vir die pos in 2020, volg die regte kanale, beplan haar hele lewe rondom die pos om seker te maak sy sal haar alles vir die skooltjie kan gee. Die kommunikasie wat sy ontvang het, is dat die proses vinnig afgehandel sal word, “nie langer as twee weke nie”. Die kinders se juffrou is onlangs oorlede en daarom benodig die skooltjie dringend ‘n juffrou in die pos.

Dit kan seker te goed wees om waar te wees, dink sy, want 2 maande gaan verby & sy wag steeds om ‘n antwoord te ontvang wanneer sy haar onderwysloopbaan mag begin by die skooltjie. Sy dink hardop: “Haar male kan seker nie meer wag om die huis weer leeg te hê nie, want al die kaste is propvol gelaai met al haar onderwys-apparaat wat sy deur die jare opgebou het”.

Sy doen navrae by die department en ‘n week later ontvang sy ‘n oproep en haar offer letter op swart en wit. Sy is aangestel en werk nou vir die departement. Wow! Nog ‘n droom wat waar geword het. Sy kan nie wag om haar passie vir die onderwys uit te leef en uiteindelik weer met die plaaskindertjies te werk waarvoor sy voel sy geroep is. Sy is bekend hiermee en haar hart wil bars van opgewondenheid.

Sy meld toe aan vir diens, begin dadelik haar klassie mooi maak, daar’s nog haar “assumption of duty” wat ingehandig moet word, dis mos hoe die prosedure werk by die departement. Jy ontvang jou offer letter, teken dit, jou skoolhoof vul jou “assumption of duty” in as jy aangemeld het vir diens en dan word die laaste proses afgehandel sodat jy op die “payroll” kan kom.

Sy kry die groot verantwoordelikheid om vir “36”, Graad 2’s en 3’s, in ‘n multi-graad klassie, die laaste stukkie van die jaar se kurrikulum te leer. Dis ‘n groot uitdaging, maar hierdie juffrou is reg vir ENIGE uitdaging.

Die volgende dag deel die skoolhoof die nuus met haar dat die EDO weier om haar “assumption of duty” te teken, volgens haar bestaan die pos nie meer nie. Wat? Hoe is dit moontlik? Ek het dan my offer letter ontvang? Dit kan nie wees nie. Sy is dan die een wat gesê het die proses gaan net twee wekies vat om my in die pos aan te stel?


Here, is al wat sy kan sê, hou nou? Dit kan mos nie wees nie? Hoe verdwyn ‘n pos net van ‘n onderwys sisteem af? Wat van die kinders? Hulle verdien mos nie om hierdeur te gaan nie? Hulle moes dan reeds ‘n juffrou aan die dood afstaan, hulle kan mos nie weer sonder ‘n juffrou wees nie?


Sy kry in die oomblik van die gemors kontak nommers in die hande en sy bel die persoon by die kantoor wat in beheer is. Hy verseker haar toe, “As jy ‘n offer letter het, moet jy werk juffrou. Moenie worry nie, ons sal dit vir jou uitsorteer daar is moontlik net ‘n misverstand. Jy is aangestel in daardie pos, jy moet aanhou werk. Die distrik direkteur se handteking is op die offer letter, hy het dit geteken so die pos bestaan wel”.

Sy hou toe aan met werk, passievol en getrou daag sy elke dag op vir diens. Dis elke dag se 60 km wat sy moet ry op die grondpad na die skooltjie, maar sy doen dit met liefde want sy het ‘n liefde vir wat sy doen en die kinders verdien kwaliteit onderrig. Dis vir haar so lekker om by hierdie skooltjie te wees. Sy het mos haar offer letter ontvang, soos aan haar gekommunikeer is, so sy is aangestel in hierdie pos.

Die situasie begin al gekompliseerd raak en sy nader haar onderwys-unie om te help. Die kommunikasie wat sy ontvang is dat die pos wel bestaan en die situasie moet net uitgesorteer word. Haar skoolhoof het van haar kant af alles gedoen en vertrou saam met haar dat die situasie vinnig opgelos gaan word.

Die einde van die jaar staan al nader, formele assessering moet gedoen word, dis elke dag harde werk om leer maklik en lekker te maak vir die kinders. Twee maande gaan verby en die situasie word steeds nie opgelos nie.


‘n Konstante soeke na antwoorde, die hoekoms, die waaroms. Hoekom ek God? Waarom moet ek hierdie beker drink? Hoe moet ek bid? Waarvoor bid ek en wat is U wil? Waarom moet ek deur hierdie gaan?


Sy bel letterlik elke dag die kantoor, doen alles wat sy kan van haar kant af, sy reël vergaderings met die departement, probeer agterkom wat aangaan. Daar word leë beloftes gemaak dat as hulle die situasie nie kan oplos nie, sy dan as “oortrokke” beskou word en beslis in ‘n ander pos aangestel sal word. Sy kry ‘n kontak nommer van ‘n skoolhoof wat op ‘n gereelde basis deur hierdie onregverdigheid gaan met sy onderwysers en hy beveel haar aan dat die enigste opsie, om die situasie “vinnig” op te los, is om ‘n spesifieke prokureur te kontak.

Sjoe, dink sy! Hierdie voel so onwerklik, dis ‘n groot gemors, maar sy kontak die prokureur, deel al die inligting met hom, die bewyse en die proses word aan die gang gesit om opgelos te word. Sy doen dit ter wille van die kinders en omdat die wet sê: “As jy ‘n offer letter het, dan werk jy vir die departement, dit kan nie teruggetrek word nie”.


‘n Bly vasklou aan die woorde, “jy is mos sterker as wat jy dink”. Hierdie woorde voel vir jou ewe skielik of jy die swakste mens is wat bestaan. Dit voel vir jou of jou passie as onderwyser totaal en al bevraagteken word.


Sy sien hoe die res van die onderwysers elke maand getrou hulle salaris verdien, sy hoop elke maand hierdie keer is dit dalk haar beurt, maar niks gebeur nie. Sy bid, sy pleit by die Here vir deurbrake, vir hulp, sy kry darem elke dag krag om haar kop op te tel en aan te hou skool toe ry.

Die kindertjies voor haar begin saam met haar bid, want hulle wil nie hulle juffrou verloor nie. Sy raak lief vir elke kindjie wat voor haar sit. Hulle werk so hard, probeer so hard om hulle beste te gee, haar hart breek om te dink dat hierdie situasie so deurmekaar is.

2021 breek aan. Die eerste arbitrasie datum is gereël, die vergadering word gehou en die departement ontken dat hulle die offer letter uitgereik het. Daar gaan ‘n ander pos in die omgewing oop, maar dis beheerliggaam, en al wat vir haar gesê word is, “moenie die pos aanvaar nie, want anders gooi die department jou uit die sisteem.

Byt nog ‘n bietjie vas, ons is besig met die arbitrasie en jy gaan die saak wen”. Dit laat haar geen ander keuse, die arbitrasie proses is steeds aan die gang en sy wil nie die geleentheid mis nie. Sy bly aanmeld vir diens by die skooltjie soos die offer letter en skriftelike kommunikasie bewys dat sy in daardie pos aangestel is.


Haar hele lyf is vol stres, haar liggaam gaan in skok en sy kry ‘n miskraam die oggend voordat sy met die EDO van die departement vergadering moet hê. (Dit is ook die enigste persoon wat beweer die pos bestaan nie meer nie). Niemand kan haar help nie, die kinders is afhanklik van ‘n juffrou, maar sy moet ewe skielik ophou aanmeld vir diens.

Volgens die EDO het die pos nooit bestaan nie, al het sy al die bewyse dat dit wel bestaan. Wat het geword van die pos? Hoe het die pos net verdwyn? Dis mos onmoontlik? Wat word van die kinders? Hier is ek, sê sy heeltyd! Ek WIL werk, ek WIL skoolgee, maar steeds voel dit vir haar of niemand haar ernstig opneem nie. Is dit moontlik die kleur van haar vel? Is dit moontlik omdat daar dinge agter toe deure gebeur waarvan sy nie weet nie? Waarheen gaan die geld wat befonds is vir hierdie pos?

Sy is kwaad oor die situasie waardeur sy moet gaan, sy murmureer oor dit waardeur sy moet gaan, dis ‘n geruime gekla en sy voel dat sy bitter onregverdig behandel word.

Sy sukkel om God se hand sien, dis moeilik, dis deurmekaar en sy wens sy was nie in hierdie gemors nie. Sy moet elke keer haar situasie verduidelik aan haar vriende/familie en sy bly spreek met ‘n positiewe hart en gemoed. Sy voel bang, onseker en deurmekaar.


Sy is oorweldig oor haar vyande, sy betree die woestyn van murmurering.


Daar gaan ‘n ander departementele pos oop, maar die kilometers is net eenvoudig te ver om elke dag te ry. Sy kan ook nie enige pos aanvaar nie want sy het pas gehoor sy is n “hoë risiko swangerskap”, ja sy het weer swanger geraak deur al die stres waardeur haar lyf gaan. Dis ‘n wonderwerk en sy prys God vir hierdie voorreg en wonderwerk in hierdie ongelooflike moeilike tyd in haar lewe.

Om ‘n lang storie kort te maak, het sy aanhou werk, vir 9 maande lank, sonder ‘n sent salaris. Sy het van haar kant af ALLES gedoen om haar diens by die departement na te kom, ter wille van die kinders en hulle toekoms. Sy het bewyse op papier dat die pos bestaan, daar is ‘n offer letter aan haar uitgereik, sy het met die regte persone kontak gemaak, geld betaal sodat geregtigheid sal geskied en sy het bly vasklou aan geloof dat God ALLES ten goede sal laat meewerk. Sy is ‘n lojale mens en daarom het sy alles probeer doen wat sy kon.


Dis asof ‘n stukkie papier,  ‘n Graad in die sakkie, n juffrou-hart wat ‘n passie het om met kinders te werk, skielik niks beteken nie. ‘n Gevoel van minderwaardigheid, konstante vrae van haar vriende/familie wat omgee, teleurstelling op teleurstelling, en leë beloftes wat gemaak word. Die gedagtes van mislukking en nie suksesvol, bly steeds binne haar wemel. Hoop was waaraan sy bly vasklou het, God was haar enigste hoop in hierdie traumatiese ervaring.

Sy moes in tussen haar dienste stop by die skooltjie want sy kan dit nie meer bekostig om elke dag 60km te ry en sy word nie ‘n salaris betaal nie. Sy het van haar kant af alles probeer en nou moet sy al haar onderwys goedjies in haar klassie oppak want die situasie bly onveranderd.

Dis nie asof sy enige ander iets kon aanpak nie, want die departement het bly belowe dat hulle haar binnekort in ‘n ander pos gaan aanstel as die situasie nie opgelos word nie. Net as sy ‘n “aanlyn onderrig posisie” wil aanvaar, dan word daar vir haar gesê dat sy aangestel gaan word in die pos of ‘n ander pos, dis net n kwessie van tyd.

Die einde van 2021, word die laaste arbitrasie datum bevestig, dis ‘n “vergaring met die departement” en die keer kan almal om ‘n tafel sit en gesels om die situasie op te los. Die EDO wat moes kom verduidelik het wat gebeur het met die hele gemors, daag natuurlik nie op nie. Hulle wil “settle”, hulle besef hulle gaan nie hiermee wegkom nie.

Leë beloftes word weereens gemaak, daar wys ewe skielik dat daar sommer 3 poste oopgaan op die “post-establishment” by hierdie spesifieke skooltjie. Sy vind ook uit dat die skool nie net ‘n plaasskooltjie is nie, maar dis in ‘n “rural-gebied”. Haar prokureur het beslis homself uitstekend van die taak gekwyt en uiteindelik voel dit vir haar of daar weer lig aan die einde van die tonnel is.


‘n Konstante gesoek na werk, om ‘n onderwyspos te kry, leë beloftes. Haar omstandighede is nie soos almal sin wat in die stad bly met 10000 onderwysposte wat op haar voorstoep sit en wag nie. Nee, sy bly ver van onderwysposte af, haar opsies is min, die poste is reeds gevul in die omgewing.


Die einde van 2021, kry sy ‘n oproep uit die bloute van die skoolhoof af, die EDO wil haar in die posisie aanstel, sy moet haar dokumente so gou as moontlik gaan inhandig by die kantore. Sy kontak dadelik haar prokureur en die persoon van die departement wat in beheer is om die “settlement” van die arbitrasie af te handel.

As sy die pos aanvaar, gaan sy nie omgee oor die geld wat sy reeds nie ontvang het toe sy reeds aangemeld het vir diens nie. Solank sy die pos kan kry, sal sy nie verder baklei vir geld wat eintlik aan haar toegekom moes word nie. Haar papiere is ingehandig, die skoolhoof het al die stappe reg gevolg en nou is dit net ‘n kwessie van tyd voordat sy weer haar onderwys passie kan uitleef.


Sy ervaar die vrede, sy is so opgewonde dat hierdie gemors uiteindelik uitgesorteer gaan word. Natuurlik deel sy dit met almal want sy is so opgewonde om weer te kan skoolgee. Haar hart is seer en ewe skielik lyk haar blink onderwys toekoms of dit in duie stort.


2022 breek aan, epos na epos het sy gestuur, oproep na oproep gebel en almal is ewe skielik dood stil. Die situasie bly onafgehandeld, die skooltjie sit sonder ‘n juffrou, dis chaos by die skool. Twee juffrouens moet vir 110 kinders skoolgee, niemand het antwoorde nie. Steeds bly die situasie bevraagteken en sit die kinders sonder ‘n juffrou.Sy haal haar hoed af vir die twee onderwysers wat alles moet maak werk by die skooltjie.


Die muur van vrees, angstigheid, swakheid, vernedering, ‘n minderwaardigheid word opgebou, sy voel nie “goed genoeg” nie. ‘n Konstante gewag, verwagting dat sy enige oomblik goeie nuus gaan ontvang. Om letterlik in jouself te buig voor God.


Hoe oorwin jy die situasie? Hoe vind jy vreugde in hierdie seer? Die konstante herinnering want jou onderwys-apparaat lê en loer vir jou en jy weet nie wanner jy weer die voorreg sal hê om jou passie te kan uitleef nie. Dis ‘n ongemaklike hoofstuk, vernederend en baie deurmekaar. Sy voel of sy iets verkeerd gedoen het, of sy nooit moes aanhou met die proses nie en dit eerder net moes gelos het.


Voorsiening lyk ewe skielik heeltemal anders as waaraan jy gewoond is. 


Sy is jaloers op die onderwysers wat elke dag hulle gesiggies kan leer, dit was altyd sy gewees. Sy mis die oggende waar sy die klavier kan uithaal en bybelliedjies sing tot sy en die kinders vergeet hoe laat dit is. Sy verlang na die gesiggies voor haar om hulle te probeer leer om ‘n moeilike begrip oor en oor te verduidelik.

Sy mis ‘n warm drukkie van n kinder-hartjie wat sommer net vir haar wil sê hoe mooi sy vandag lyk. “Djuffrouw, jy het die mooiste hare”.

Sy besef dat God hierdie kinder-gesiggies vir ‘n seisoen in haar hoofstuk geleen het, en dis tyd om uit die “sak en as” op te staan & Hom te vertrou dat ALLES ten goede sal meewerk.


Here, ek vergewe myself as ek ooit iets gedoen het wat nie deel van U plan was nie, bid sy. Sy word herinner aan die belofte, dat niks uit God se hand kom wat nie beplan en bestem is vir haar lewe nie.

God wil hê sy moet deur seerkry gaan sodat Sy naam verheerlik kan word. Niks gebeur sommer maar net nie. Sy ervaar bo-natuurlike vrede en vreugde in die middel van die storm en ewe skielik is die storm in haar hart stil, dit het bedaar, sy kan weer die lig sien.

Vergewe jou situasie, vergewe die mense wat toelaat dat jy ‘n teiken is van onregverdigheid & bid vir hulle. Spreek hulle vry, tel jou kop op en wees dankbaar vir wat jy het.



Sy ervaar ‘n bo-natuurlike VREUGDE geroep in die storm. ‘n Geroep waar sy totaal kon oorgee aan God se plan & wil met haar lewe.

Sy kan nou na die hoofstuk kyk sonder om in trane uit te bars, sonder om te voel dat sy ‘n mislukking is of nie ‘n onderwyspos verdien nie. Sy vergewe dit wat met haar gebeur het en die mense wat veroorsaak het dat sy deur hierdie seer moes gaan. Die departement doen elke dag aanstellings en sy was ongelukkig een van die aanstellings wat onregverdig behandel was.

Sy kan met vrede na alles kyk en sy sal altyd op die uitkyk wees vir ‘n onderwyspos. Sy het liefgeraak vir die mense by die onderwys- departement en sy bid God se goedheid oor hulle elkeen.

Sy glo haar situasie was ‘n leerskool vir almal en dat daar nie nog onderwysers deur so iets hoef te gaan nie. Sy is nie kwaad nie, sy het geen wrokke teenoor niemand nie. Sy glo die tyd wat verby gegaan het was nie “verniet” nie en sy sien God se hand in dit.

Jy, juffrou, is ‘n juweel.Jy verdien ‘n plakker vir elke stukkie wat jy moes opeet omdat die sisteem jou te na gekom het. Ek ken jou frustrasie, ek ken jou seer. Ek wil vir jou vandag herinner, jy is nie alleen nie.

Moenie moed opgee nie, die Here is besig om die regte onderwyspos vir jou uit te kies. Nie net enige pos nie, dit gaan ‘n onderwys-ervaring wees waar jy so gelukkig gaan wees. Hy ken jou hart, jou bereidwilligheid & hy weet klaar waar hy jou nodig het al vat dit dalk ‘n bietjie langer as wat jy gehoop het.


Die lesse wat ek uit hierdie hoofstuk kon leer:

…en ewe skielik was daar kleur, die lente het aangebreek! Die muur van Jerigo het geval!


  • Staan op uit hierdie plek, Arise!
  • Neem die land in besit! God weet beter, Sy plan is net goed!
  • Wat is in jou hand vandag? Om letterlik dit wat God vir jou vandag gee, ten volle aan te gryp en uit te leef.
  • ‘n Helderheid, ‘n tong wat lig spreek, ‘n nuwe perspektief, ‘n dankbaarheid ten spyte van wat met jou gebeur het, ‘n nuwe manier van praat, ‘n nuwe manier van dink…
  • Om in vreugde uit te roep in ALLE omstandighede. Om God te kan prys in alle omstandighede!
  • Om die lig en hoop in omstandighede te bring. Om jou lig te bly skyn al voel dit vir jou of almal op jou neerkyk.
  • Geniet die seisoen waarin jy is, al voel dit vir jou dat jy nie “suksesvol” is in wat jy doen nie. Dit wat jy vandag uit God se hand ontvang, is meer as genoeg!
  • Om te kan blom ten spyte van ‘n situasie wat nie wil uitwerk nie. Om dit wat jy so nodig het, te kan neerlê en God te vertrou met sy Wil en Sy plan. ‘n Hoopvolle hart dat ALLES ten goede sal meewerk.
  • Om te kan blom ten midde van die dorings wat konstant jou kom steek, ‘n nuwe manier van dink. God stuur hierdie om iets in my te kom bewerk en hy wil aan my goed doen. Om te kan roem in jou swakhede.

‘n Belofte: Mag jy genoem word, terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die Here tot sy verheerliking.

Hierdie woord het my gedra in die storm:

‘n Vreugde geroep


n Juffrou sal ek altyd bly, en ek weet dat wanneer God se tyd weer reg is, sal ek my passie in die klaskamer kan uitleef en dan gaan dit goed wees, op Sy tyd wees, Sy wil en met Sy plan uitwerk. En dit is nou vir my goed genoeg, elke dag moet ek myself keer om nie met die gedagtes weg te hardloop nie en Hom ten volle te vertrou.

Ek bewonder my man en familie, hoe hulle my ondersteun het in hierdie ongelooflike moeilike tyd. Ek klou aan God se plan vas en kyk met ‘n “nuwe” perspektief na hierdie hoofstuk.


Deur hierdie ongelooflike moeilike storm, het God vir my kom seën om ‘n MAMMA te word. Ek besef nou dat God dalk hierdie situasie oor my pad kom stuur het om vir my soveel waardevolle lesse te leer wat ek benodig op my lewensreis.

Ek het nou die voorreg om ‘n Mamma & Juffrou vir my seuntjie te wees. Dis die grootste voorreg dat God my toelaat om elke oomblik en tree van my seuntjie se mylpale te kan ervaar. Sy eerste glimlaggie, om te kan ervaar as hy begin kruip, as hy sy eerste tree gee en elke mylpaal gaan ek saam met hom kan ervaar. Dit is voorwaar ‘n geskenk & seëning so vars uit God se hand.

God het reeds op Sy manier kom voorsien om ‘n voorkomskonsultant en grimering konsultant vir so baie vroue te wees. Ek is dankbaar vir die klein en groot wonderwerkies wat God reeds deur “Just you” kom doen het en vir elke vrou wat Hy oor my pad stuur om ‘n verskil te maak in hulle lewens.

Ek is dankbaar dat ek nou meer op “Just you” kan fokus, dis iets wat ek nog altyd wou aanpak en nou kan ek dit ten volle doen. Hy voorsien ALTYD en Hy het reeds die paadjie kom uitlê vir die nuwe seisoen wat aanbreek.

God gaan nie iets laat uitwerk as Hy nie reeds ‘n plan daarmee het nie. Deur die seer, kom daar altyd iets moooi, iets wonderlik.

Ek sien so uit vir dit wat nog voorlê. Deur hierdie ongelooflike moeilike onseker tyd, het Hy my verfkwas gebruik om op soveel nuwe maniere die lewe in te kleur.

“God wil jou op soveel maniere gebruik, jy is tot soveel meer in staat as jy Hom toelaat om alles wat Hy in jou geplaas het, te laat blom”. Jy sal verbaas wees hoeveel kunswerke Hy deur jou wil kom doen.


Musiek – Inspirasie:


Hou die webtuiste dop vir meer Inspirasie oor Mamma-wees, Grimering, Stilering & VELE meer.

https://web.facebook.com/justyouinspirational


‘n Nuwe seisoen begin, volg my mamma-wees reis en gesels saam.


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *