You

Ek word mamma – Swangerskap Inspirasie

Ek is swanger, waar begin ek?

‘n Oomblik waar dit vir jou voel of die wêreld stilstaan, die twee-streep merkie voel asof jy jouself in ‘n droom bevind. Ek is swanger, ek gaan ‘n mamma word, die woorde word ewe skielik realiteit. ‘n Heel eerste swangerskap verander alles, jou hele lyf, denkwyse, manier van doen & jy kan die verandering stukkie vir stukkie oor die 9 maande van jou swangerskap ervaar.

Jy voel oorweldigend, bang, opgewonde en soveel emosies word vrygestel. Dit is normaal om so te voel. Jy word ‘n mamma en dis verseker een van die grootste geskenke wat God wil bring deur lewe binne-in jou te laat groei. Dit is voorwaar die grootste voorreg  & seëning wanneer God ‘n baba aan jou leen.

Ek deel graag my swangerskap-reis as ‘n nuwe mamma wat nie geweet het wat hierdie swangerskap-reis inhou nie. Hierdie was my ervaring en ek deel graag ‘n paar wenke wat vir my gewerk het.

1. Begin beplan

Dit is belangrik om asem te haal, te aanvaar dat daar nie net lewe binne- in jou groei nie maar dat jy ook verander word in die proses, jy gaan nou ‘n mamma wees. Jou denkwyse, manier van doen, perspektief word totaal en al verander. Maak lysies van wat jy alles gaan nodig hê, plak die kalender vol en geniet hierdie ongelooflike lekker reis.


2. Prys God

‘n Babatjie op pad, is seker die grootste geskenk wat enige mens kan kry. ‘n Wonderwerk van bo. Om te weet dat ‘n baba aan jou geleen word, ‘n kind, ‘n nuwe lewe. Maak God deel van elke stappie van hierdie reis, Hy is die een wat lewe gee & wat hierdie wonderwerk moontlik gemaak het.

Kry ‘n Joernaal en begin skryf, al jou vrese, emosies, gevoelens, hoogtepunte, drome, mylpale ens. Pen alles neer in jou dagboek, die seisoen wat jy betree is weerloos. Jy kan hierdie joernaal by Mayalief se webtuiste koop.


3. Kies ‘n dokter/ginikoloog

Dalk het jy reeds besoeke gehad na ‘n spesifieke ginikoloog, dis belangrik om iemand te kies waar jy gemaklik by voel en wat hierdie reis ekstra spesiaal vir jou en jou man gaan maak. Vra die ander mammas in jou omgewing wat hulle ervaring was. Baie dokters stap die pad met jou tot op 20 wekies en dan moet jy oorskuif na ‘n dokter wat geregistreer is om die bevalling te mag doen. Kies ‘n dokter wat die hele reis met jou kan deel.


4. Download die “Flo” – app

Hierdie is ‘n baie lekker app om te hê. Jy kan boekhou van hoe baba weekliks groei en dit tel ook die wekies vir jou af. Jy kan ekstra betaal om volle toegang tot die app te kry, al is dit net vir jou swangerskap-reis. Daar is waardevolle artikels om te lees, raad word gedeel en jy het breër ‘n idee van hoe baba binne jou groei.


5. Pas aan by jou eetgewoontes

Elke vrou ervaar haar swangerskap-reis baie anders, niemand kan vir jou sê presies wat jou “cravings” gaan wees nie. Dit is belangrik om na jou liggaam te luister. Dit waarvoor jy lus kry, is dalk wat jou baba meer nodig het as wat jy dink. ‘n Mens hoor van die vreemdste “cravings” wat mammas kry en dis belangrik om toe te laat dat jou liggaam self met jou praat.

Ek het die lekkerste produk ontdek wat my gehelp het tydens my swangerskap. Dit help met daai dae wat die “cravings” baie is en dit gee ook die nodige vitamines vir jou en baba wat julle albei benodig. Dit gaan jou ook help wanneer jy moet borsvoed. Lees gerus meer oor die produkte op hulle webtuiste, daar is vele om van te kies.

Bestel enige van “Yummy mummy Lifestyle” – produkte en gebruik die kode om 7% afslag op hul webtuiste te kry –

7% afslag kode – lof7


6. Pas jou leefstyl aan

As jy gereeld oefening gedoen het en jou lyf gewoond aan daardie spesifieke oefening was, gaan jy heel waarskynlik mag aanhou daarmee maar op ‘n baie veiliger manier. Vra jou dokter wat hy/sy sou voorstel en luister na daardie raad. Ek was eenvoudig te moeg gewees om die “3km” wat ek elke dag gaan stap/draf het, of die kardiovaskulêre oefening wat ek daagliks gedoen het, te doen. My lyf kon nie en ek het seker gemaak ek druk nie myself om meer oefening te doen as wat ek in staat was om te doen nie.

Indien jy ‘n paar oefeninge wil doen en jy het jou dokter geraadpleeg, is hierdie app verskriklik lekker en jy kan die oefeninge aanpas soos jy voel. Kies die “pregnancy workouts”- opsie vir veilige oefening.


7. Deel die goeie nuus

Baie vrouens is so opgewonde om die goeie nuus te deel voor 12 wekies en dit is verstaanbaar. Jy en jou man kan besluit hoe julle dit gaan aankondig en wanneer. Ons wou dit ‘n geheim hou omdat ons eers seker wou maak alles is reg met baba voor ons dalk ‘n teleurstelling in die gesig moet staar. Ons het wel dit met die naaste familie gedeel om vir baba te bid en die opwinding met hulle te deel.

Na ons 12 wekies se besoek, kon ons met rustigheid die opwinding met al ons vriende en familie deel. Dit was vir ons nog meer opwindend want toe kon ons ‘n mooi sonar foto byheg en dit persoonlik deel.

As jy en jou man graag iets op sosiale media wil deel, is dit so spesiaal om ‘n oulike foto te neem. Ons het hoedjies laat maak, ons sonar foto afgeneem en toe dit met die wêreld.


8. Kies die regte styl/klere

Jou klerekas mag dalk vir jou voel of jy genoeg het van alles. Ek belowe jou jy groei so vinnig uit al daai rokkies uit wat jy gedink het te “groot” aan jou lyk. Daar is soveel webtuistes waar jy “maternity” klere kan koop. Ek het wel besluit om net ‘n paar van dit aan te koop en dan aan te vul met wat ek reeds in my klerekas het.

Moenie geld op die duurste uitrustings spandeer en dan dra jy dit ‘n week en dan pas dit nie meer nie. Ek het nooit besef dat my magie so vinnig van ‘n “extra-small” na ‘n “Large” gaan groei nie. Dit was vir my ‘n GROOT aanpassing.

Wenk: Ek het wel ‘n jean en ‘n swart “maternity” broek by H&M aangekoop wat my gehelp het om lekker te kan speel met verskillende uitrustings.

Wenk: Ek het ook rokkies in die winkel gekies, dit by die huis kom aanpas en dit terug geneem as dit nie lekker pas nie. Mens raak so gou moeg en geiriteerd as jy in ‘n aantrek hokkie elke keer moet uit en aan trek. Dit was ook net veiliger om eerder by die huis te kom aanpas en te besluit of dit gaan werk.

Wenk: As jy naaldwerk kan doen, is dit ‘n bonus. Jy kan vir jou “goedkoop” rokkies stik wat die lewe vir jou soveel makliker gaan maak gedurende jou swangerskap-reis. Jy kan self die tipe materiaal kies en jy kan veranderinge aanbring soos jou magie groei. Kies ook rokkies waar die materiaal kan rek.

Hier volg ‘n paar webtuistes om gemaklike “maternity”- uitrustings te koop:

Jy kan so mooi aantrek as jy die regte snit, kleur en styl kies. As jy ‘n voorkoms-konsultant benodig om jou te help hiermee, help ek graag:


9. Kies ‘n baba kamer tema

Hierdie is seker een van die opwindendste gedeeltes van jou swangerskap. Baie mammas het nie die voorreg om ‘n ekstra kamer te hê vir ‘n baba kamer nie, en dan rig hulle sommer hul eie slaapkamer in om die eerste jaar van baba se grootword-proses gerieflik te doen.

Ons het ‘n kleinerige kamer wat ons altyd as ‘n studeerkamer gebruik het wat ons besluit het om in te rig vir baba se kamer. Ons het besluit dat baba sy eie kamer moet hê en daarom het ons die studeerkamer geskuif na die “garage” en dit ingerig as ‘n aparte kamer indien ons ekstra gaste kry.

Indien jy die voorreg het om vir baba sy/haar eie kamer te kan mooi maak, kan jy begin om te dink watter tema geskik sal wees. Ek hou van neutrale kleure en ek het ‘n tema gekies wat gaan pas by ‘n seuntjie/dogtertjie-kamer. Ek het ‘n effe kleur gekies en die “takbok-tema” ingebring sodat alles mooi bymekaar gaan pas. As jy ‘n spesifieke tema kies, kan jy die uitleg kies en die beddegoed vir jou laat maak.

Ons heg baie waarde en sentiment aan items wat ouma/oupa gebruik het. Jy hoef nie alles ten duurste aan te koop nie, ons het sommer lekker DIY-projekkies aangepak, self geverf, geskuur en mooi gemaak. Gebruik wat jy het, pas dit aan en verander dit sodat dit inpas by baba se kamer.

Hier is ‘n paar idees vir ‘n seuntjie se baba-kamer:


10. Dokters besoeke

Hierdie besoeke kan somtyds baie stresvol wees. Jy is bekommerd of baba nog gesond is, mooi groei en die nodige vitamines inkry. Dis okay om te stres voor ‘n besoek. Sodra jy op daai bed gaan lê, dokter die sonar op jou magie doen en jy daardie volmaakte lyfie sien beweeg, is dit asof jy jouself in ‘n droom bevind waaruit jy nie wil wakker word nie.

Dis verseker die ongelooflikste gevoel om baba te sien beweeg, sy hartklop te hoor en te sien hoe hy elke wekie groter groei. Van ‘n embrio na ‘n volmaakte baba met 10 vingers en 10 tone.


11. Neem foto’s van hoe jou “boepie” groei

Hierdie is een van die raad wat al my vriendinne gegee het, neem tog net foto’s van hou jou magie groei al voel jy soos ‘n “walvissie” in elke foto, dis die lekkerste foto’s om te hou en op terug te kyk. Elke week is ‘n stappie nader aan ‘n nuwe lewe wat jy binnekort in jou arms gaan vashou. Koester die proses waar baba binne-in jou groei en sien die ongelooflike wonderwerk raak.


12. “Gender Reveal” – Aankondiging

Om die geslag van baba uit te vind is baie opwindend. Baie mammas wil nie die geslag weet nie waar ander mammas nie kan wag om die geslag uit te vind nie. Ek is een van die mammas wat van die dag wat ek uitgevind het ek is swanger, die geslag wou weet.

Speel ‘n lekker speletjie met die mense na aan jou, laat hulle raai, wonder. Vra jou dokter om dit ‘n geheim te hou, die geslag in ‘n koevert te sit en laat iemand namens jou ietsie oulik reël om dit aan te kondig.

Ons kon al op 12 wekies die geslag gesien het en ek was een van daai mammas wat van die begin af gedink het dis beslis ‘n seuntjie wat binne my groei, ek weet nie hoe nie, maar ek het net geweet. Ons het sommer toe ons aankondig ons is swanger, ‘n speletjie gespeel dat die mense moet raai wat die geslag is en dit so bekend gemaak. Daar is soveel oulike idees om dit aan te kondig en dit maak die reis ekstra opwindend en spesiaal.

Hier volg ‘n paar idees om te gebruik:


13. Kies ‘n baba naam

Sodra julle die geslag weet kan die soeke na ‘n naam dalk vir baie mammas en pappas moeilik wees. Jy koppel dalk ‘n naam met ‘n gesig of jy hou dalk van ‘n naam, waarvan manlief nie hou nie. Vat julle tyd en bid daaroor. Ons het nog voordat ons geweet het ons is swanger, die naam geweet wat God vir ons seuntjie uitgekies het. Dit is familie name wat ons in een naam gekoppel het en dit heg vir ons baie waarde en dra sentiment. Die betekenis van ‘n naam is net so spesiaal om op te soek.


14. Reik uit na mamma’s

Jy is nie alleen nie. Jy mag dalk oorweldig voel met onsekerheid en opwinding tegelykertyd. Dis normaal. Daar is nie ‘n boek of handleiding om jou kleine lyfie groot te maak nie, maar weet dat daar mammas is wat soveel wenke het wat vir hulle gewerk het, waarby jy kan baatvind. Luister daarna, vra raad, vra soveel as moontlik mammas wat vir hulle gewerk het en wat nie, skryf dit neer en gebruik dit dan as wenke.

Jy kan soveel as moontlik boeke lees, video’s kyk, maar daar is net een baba wat soos joune gaan wees en jy is gekies om ‘n mamma vir daai baba te wees. Glo in jouself en indien daar vrese opduik (wat daar op ‘n gereelde basis gaan wees), bid daaroor en vra God vir wysheid en insig. Hy het jou reeds toegerus om die beste mamma vir jou baba te wees.


15. Boek jou hospitaal bed

Gesels met jou medies oor die kostes wat hulle dek. Sommige mediese fondse het spesifieke hospitale wat hulle ten volle dek en ander mediese fondse dek net sekere kostes. Maak seker hieroor en besluit wat vir jou en jou man die gerieflikste gaan wees.

Indien julle besluit het, kry goedkeuring by jou medies, bel die hospitaal en maak seker dat jou bedjie geboek is. Baie vrouens verkies ‘n “privaat-kamer” en dit is redelik skaars, maak seker dat jy jou naam op die lys sit as jy ‘n privaat-kamer verkies. Die hospitaal waarby ons was, het my man toegelaat om saam met my in die kamer te bly en dit was ekstra spesiaal. Daar is wel hospitale wat dit doen.


16. Aanvaar die verandering waardeur jou liggaam gaan

Elke vrou se ervaring is anders tydens ‘n swangerskap. Sommige kan glad nie eers kos binne hou nie, waar ander weer alles kan eet wat hulle sien. Laat jou liggaam toe om met jou te praat. Rek-merke is dalk iets wat opduik hier teen die einde van jou swangerskap en jy mag dalk baie skaam hieroor voel, dis deel van mamma-word en dis merke wat jou gaan herinner aan die grootste wonderwerk & geskenk wat jy gekry het. Selluliet mag dalk ook vir jou “nuut” wees en moenie daaroor slegvoel nie, jou man gaan jou steeds bly kies.

Die belangrikste is dat jy gesond is en baba gesond is. Jy kan na jou swangerskap weer 10km gaan draf of meer intense oefening doen om van daai ekstra “vetjies” ontslae te raak.

Dit mag ook vir jou voel of jou hele lyf met hormone gevul is en dis heerwaarskynlik die geval. Jy gaan sommige dae voel of jy oor alles wil huil en ander dae asof die lewe een groot fees is. Laat jouself toe om deur die hormone te werk maar bid ook oor jou emosies en gevoelens. Jy het steeds ‘n keuse of jy gaan toelaat dat die emosies jou beheer.


17. Pas jouself op

Jy het nou ‘n verskoning om voete in die lug te lê as jy die dag nie krag het nie. Moenie onnodige swaar goed optel nie en onthou dat jy nou nie net aan jouself moet dink nie, maar aan die baba wat binne jou magie groei. Pas jouself op en aanvaar dat jy nie die kapasiteit het om alles aan te pak soos wat jy kon voor jy swanger was nie. Dis 40 wekies wat jy opoffer om jou liggaam toe te laat om die lewe binne jou te laat groei.


18. Boek ‘n “Maternity-shoot”

Dit mag dalk vir jou voel asof jy glad nie in enige foto wil verskyn nie, jy voel ongemaklik, nie mooi nie en glad nie jouself nie. Dit is net jou weergawe wanneer jy in die spieël kyk. Amper mamma, jy is beeldskoon, al voel dit nie so vir jou nie. Jy gloei van kop tot toon en jy mag maar ‘n stywer rokkie aantrek om met daai pragtige pensie te spog. Boek ‘n “maternity-shoot”, koester daardie oomblikke wat jou baba in jou magie is, jy gaan nooit weer die geleentheid hê om hom so styf en warm by jou te hê nie.

Hier is ‘n paar foto’s wat jy kan gebruik vir Inspirasie:


19. Bid vir jou baba

Ek heg graag ‘n pdf – dokument aan, ‘n gebed wat jy kan bid oor jou baba. Dit is uitgehaal uit die boek “Supernatural Childbirth”, geskryf deur Jackie Mize.


20. Geniet elke oomblik

Geniet elke oomblik van hierdie seisoen, dit gaan so vinnig verby. Koester die moeilike dae, maar ook die makliker dae.

Ek heg graag ‘n dokument aan wat ek gekry het op “Mammas 24/7”. Die inligting is versamel deur gebruik te maak van die Facebook groep “mammas 24/7” asook ander bronne. Dit is gebaseer op meeste mammas se voorkeure. Hier word nie gebruik gemaak van gepubliseerde of dokters boeke se inligting nie! Almal gaan verskil. Hier kan onnodige inligting wees of inligting wat volgens ander as belangrik beskou word.

Hierdie dokument is saamgestel deur “D Swart”, in haar eie eie vrye tyd om jou as mamma te help. Die dokument bevat engelse asook afrikaanse woorde wat gemeng is omdat produkte dan meer verstaanbaar is. ‘n Spelfout / tikfout mag dalk inglip. Gebruik dit asseblief op ‘n verantwoordelike wyse en op eie risiko. Die skrywer van hierdie dokument kan nie aanspreeklik gehou word vir enige raad of wenke wat nie werk nie.


Dis is opwindend om deur elke tree van jou swangerskap te gaan. Party vrouens ervaar dat dit nie mees moeilikste seisoen ooit is, daar is nie eers sprake van “glow” nie en jy bly konstant naer/moeg en dan is daar vroue wat elke sekonde voel asof hulle “glow”. Wat ookal jou ervaring is, geniet elke sekonde van hierdie seisoen want daardie baba gaan nooit weer in jou magie kan groei nie.


Mamma…

Die vrug van die moederskoot is ‘n beloning – Psalm 127:3

Sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin – Spreuke 31:15

Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig – Spreuke 31:17

Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom – Spreuke 31:25

Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong – Spreuke 31: 26

Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie – Spreuke 31:27

Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar – Spreuke 31:28


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *