You

Swangerskap Inspirasie – Pak jou en baba se Hospitaalsak

Jy is in jou laaste trimester, jou babakamer is uitgeverf, baba se kot is opgeslaan en baba se kleertjies is gewas, maar jy het geen idee wat jy in jou en baba se hospitaalsak moet pak nie. Het jy al tonne youtube video’s gekyk om idees en raad te kry maar jy weet steeds nie waar om te begin nie?


Ek is ‘n nuwe mamma en ek deel graag n paar idees/wenke wat ek in my hospitaalsak ingepak het wat vir my gewerk het. Ek het ingepak wat ek voel vir my noodsaaklik was en advies wat ek by ander mammas gekry het. Doen wat pas by jou persoonlikheid & gebruik hierdie idees om jou hospitaalsak aan te vul.

Ek het vir 3 dae in die hospitaal gepak. Daar is geen “regte” manier nie, hierdie wenke gaan jou help om dalk ‘n nuwe manier van doen te volg of ‘n paar nuwe idees te verkry. Ek het normaal gekraam so my tassies mag verskil van ‘n mamma wat ‘n keiser kry.

Ek deel graag wat vir my gewerk het, ‘n lysie om af te merk en ‘n paar riglyne van dinge wat noodsaaklik is.

Ek wens iemand het vooraf met my hierdie wenke gedeel.

Wenk: Pak jou uitrustings in “Ziplock”-sakkies. Jy haal dan net ‘n sakkie uit vir elke dag. Pak jou badsakkie , versnapperinge, baba se uitrustings ens., in ‘n aparte ziplock-sakkie.

Wenk: Ek het 3 sakke gepak, een vir mamma, een vir baba en een vir pappa.


Vir Mamma

  • Japon – Die hospitaal mag dalk koud wees, en mens voel altyd ‘n bietjie meer “tuis” as jy in jou eie snoesige japon kan rondloop.
  • Onderklere – Ek het sommer by “Ackermans” onderklere gekoop wat lekker groot is en gemaklik, kies die “Maternity” opsie.
  • 2-3 stelle nagklere – Indien jy van plan is om te borsvoed, is dit wys om nagklere te koop met knopies, of met bandjies wat maklik kan op en af vir borsvoed. Moet ook nie iets koop wat jou gaan druk of ongemaklik sit nie, veral nie as jy nou net ’n keisersnit gehad het nie.’n Stel warm nag klere is ook belangrik indien jy gou koud kry.
  • Nippel room – “Lansinoh”, Hierdie is die beste nippel room wat vir my gewerk het, dit bevat die “Lanolin” bestanddeel en jy hoef dit nie af te was as jy moet borsvoed nie. Jy kan dit op jou bors los en dit help met gebarste nippels.
  • Badsakkie – Tandepaste/Tandeborsel.
  • Gesigroom/Gesigwas/Gesiglappie – Jou vel gaan uitgehonger wees vir ‘n lekker skoonmaak.
  • Haardroeër – Dit het my soveel beter laat voel toe ek my hare lekker kon was en droogblaas nadat ek geboorte gegee het.
  • Dry Shampoo/ Shampoo & Conditioner – Kies wat ookal vir jou die gerieflikste gaan wees. Ek wou my hare was want dit was so natgesweet en daarom het ek sommer klein houertjies gevat “travel-size” en my shampoo & conditioner daarin gegooi.
  • Borsvoed kussing – Hierdie was vir my ‘n lewensredder omdat dit my eerste baba was en ek geen idee gehad het hoe ek dit gaan doen nie. Die borsvoed kussing het gehelp om die ervaring makliker te maak.
  • Slippers – Ek wou my eie warm slippers saamvat, die hospitaal vloere kan baie koud wees.
  • “Sanitêre” doekies – Hoor net by jou hospitaal of hulle ‘n sak gee met al die goedjies in wat jy benodig. My hospitaal het genoeg doekies gegee, maar dis goed om ekstras saam te vat, jy gaan dit benodig.
  • Haarborsel/Haar rekkie
  • Kouse & ‘n paar gemaklike skoene
  • Ligte versnapperinge – Al kry mens kos by die hospitaal, gaan jy baie honger raak en dan is dit lekker om aan iets te peusel.
  • Plug met charger – Jy wil nie hê jou foon moet pap raak nie, vat ‘n twee-punt plug saam sodat jy jou foon kan charge.
  • Bottel water – Ek het sommer ‘n lekker groot bottel gekoop by “Checkers Hyper” en dit vol gemaak met die water wat ons in die huis drink. Hospitaal water is dalk nie waaraan jy gewoond is nie.
  • Kussing om op te slaap – Pak jou eie kussing in, dit gaan help om lekker “powernaps” te vat tussen voedings.
  • Klein wasgoedsak – Jy wil nie nog sukkel met skoon en vuil wasgoed as jy die dag moet huis toe gaan nie. Gooi sommer van die begin af al die wasgoed in een sak.
  • Huis toe gaan pakkie – Kies ‘n uitrusting wat gemaklik is en prakties indien jy gaan borsvoed. Iets soos ‘n rokkie met bandjies of ‘n jean en ‘n t-hemp wat jy vinnig net kan oplig indien julle die langpad moet huis toe ry en baba dalk gevoed moet word langs die pad.

Vir Baba

  • Baba sak – Maak seker by die hospitaal wat jy als in jou sak wat jy verniet kry, gaan kry. Gewoonlik gee hulle vir jou alles wat jy nodig het vir die tyd wat jy gaan spandeer in die hospitaal. Registreer by “Dischem” om jou verniet baba sak met “samples” te kry.
  • As jy nie die verniet babasak kry nie, bring dan: Waslappies, Boudsalf, Lyfwasmiddel, Handdoekie, Wet Wipes, Watte. Tydens badtyd gaan jy ’n handdoek, en lyfroom nodig hê. Ons hospitaal het handdoeke verskaf, maar jy kan jou eie ook inpak. Die suster by ons hospitaal het ons ook geleer om baba se gesig met ’n klein stukkie watte af te vee. Ons het “Aqueous Room” van Bennetts gebruik om baba te was, so jy het niks meer nodig nie. Elke hospitaal en mamma is anders – so besluit self of jy dit sal wil inpak, of nie.
  • Naelstring – Om die naelstring skoon te hou, kan jy “Saline” inpak, of die hospitaal voorsien dit vir jou. Ek weet “surgical spirits” is gewild, maar ons hospitaal het “Saline (soutwater)” voorgestel en dit het so goed gewerk.
  • Baba Klere: 3-5 wessies, 3-5 onesies, 2 pare handskoentjies, 3 pare kousies, 1 hoedjie. Al word Baba in die somer gebore, sal ek voorstel dat jy langmou “onesies” inpak vir die hospitaal. Daar is lugverkoelings aan, en baba sukkel nog om hulle eie liggaamstemperatuur te reguleer.
  • Kombersies: 1 warm kombersie, 1 “muslin” ligte kombersie, 1 “receiving” kombersie.
  • Dummie – Neem dalk twee soorte saam, indien baba nie van een spesifieke dummie hou nie.
  • Kar stoeltjie & Kar stoeltjie-oortreksel
  • ‘n Pak “Newborn” Nappies
  • Telament “koliek” druppels – Medikasie is een van daardie dinge wat verskil van baba tot baba en mamma tot mamma. Die hospitaal het toe ons huis toe gaan vir ons seuntjie Reuterina druppels voorgeskryf.
  • Baba nessie – Hierdie help dat baba lekker “warm” voel van dag een af.
  • Aankondiging kaartjie – Optioneel as jy ‘n oulike foto wou neem met baba se gewig, lengte, tyd gebore ens.

Vir pappa

  • Badsakkie – tandepasta & tandeborsel
  • Plakkies
  • Nagklere
  • 2-3 uitrustings vir aantrek
  • Ligte versnapperings – `Al kry jy hospitaalkos, is jy lus vir peuselhappies tussendeur. Kies enige versnapperings van jou keuse.
  • Beursie
  • Mediese Fondskaart
  • Magtigingsnommer van die mediese fonds
  • ‘n Swart pen
  • Pappa & mamma se ID’s
  • Kussing om op te slaap


Ek het ‘n lysie gemaak waarop jy kan afmerk wat jy alles moet inpak! Kliek op die skakel om dit af te laai:


Haal asem, jy mag maar voete in die lug lê terwyl jy nog kan. Geniet die rustigheid, die laaste paar daggies wat daai lyfie in jou magie moet groei & sluit Jesus in elke stappie van hierdie ongelooflike seisoen in, bid vir jou en baba & weet dat alles goed sal gaan.

Jy kan dit doen mamma!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *