Die laaste tyd lê die boek Esegiël so op my hart en in my bybelstudie-tyd maak ek die bybel op my foon oop en begin ek lees. Die woorde tref my kliphard en my hart begin saampraat.
Ek luister, met ‘n oor vol genade. Dan verstom dit my wat ek raaklees. En ek besef ons as mens se harte het “verhard”, soos God met Esegiël praat oor Israel, en die mense wat nie wil luister nie. Is dit maar nie presies wat ons ook doen nie? Ons volg ons eie wil en dan tree ons uit vlees op en ons besef nie hoe seer dit die mense rondom ons maak nie.
Mense kom en gaan in ons lewens en dan is daar sommiges wat vir altyd bly maak nie saak wat nie. As ek terugkyk na die seisoene waardeur ek al is, is ek so dankbaar dat die Here hierdie “People Pleaser-mens” wat ek was, kom verander het. Sommige dae steek dit nog kop uit en dan is ek weer terug by stap een om mense tevrede te stel en ander dae pla dit my glad nie wat mense sê of dink nie. Ons is ook maar net mens, maar die keuse bly ons sin.
Hoe ons mekaar hanteer maak saak!
Is ons almal nie maar opsoek na liefde nie? Liefde wat ons so vrylik van God ontvang en dan is ons so suinig om dit uit te deel vir mekaar. Sukkel ons almal nie steeds om elke dag in die lig te leef nie, om eerder op die positiewe te fokus en mekaar te bemoedig nie.
Hoe wonderlik het God ons as mens geskape om mekaar te kan ondersteun, ophelp, raad gee, ‘n voorbeeld wees, n vriend wees….maar ons doen eerder die teenoorgestelde.
Ek bevind myself somtyds in ‘n woestyn waar ek self skuldig is om gehoorsaam aan God se woord te wees en met n oog van oordeel rondloop.
Dit bring my terug na die wêreld waarin ons vandag leef, en ons elkeen het ‘n deel aan een of ander vleeslike keuse wat nie aanneemlik in God se oë is nie. Ons kyk met “verharde” harte na mekaar en ons maak mekaar seer sonder dat ons besef wat ons besig is om te doen.
Het ons almal nie ook maar ‘n paar seisoene waar mense ingestap het en weer uitgestap het nie. ‘n Paar oomblikke waar mense iets gesê het wat jou so seer gemaak het dat dit altyd by jou sal bly. Dit laat my besef hoe hardkoppig en lelik “ons” geraak het met die mense rondom ons.
n Oomblik van weerloosheid
Ons sê soveel dinge maar ons doen die teenoorgestelde Ons baklei oor soveel nonsense maar ons vergeet om te lag Ons kyk verby mekaar maar ons druk die like-knoppie op sosiale media asof ons mekaar raaksien Ons sê ons leef in die lig maar ons skinder om elke hoek en draai van mekaar Ons maak of ons mekaar se beste belange op die hart dra, maar ons trek gedurig die groen-jaloesie baadjie aan Ons is facebook maatjies maar ons loop verby mekaar Ons wil leef asof dit ons laaste is, maar ons entertain drama Ons bedink die goeie maar ons dade spreek anders Ons sê ons gee om, maar ons sê dit te min Ons is “besties”, maar ons kan mekaar eintlik glad nie verdra nie Ons neem "selfies” soos vriende doen, maar ons leef in kompetisie met mekaar Ons sê ons gee om, maar ons kyk neer op mekaar Ons wil aanvaard voel, maar ons oordeel mekaar se foute Ons sit voor in die kerk, maar ons loop neusie in die lug rond Ons verwag respek en liefde, maar ons breek mekaar konstant af "Ons"
Wie is ons dan regtig en wat doen ons regtig met God se genade wat vrylik elke dag beskikbaar vir ons is?
Waarop spandeer “ons” regtig “ons” tyd?
Wat het geword van onvoorwaardelike liefde, om eerder in die “gees” te wandel as om toe te toe te laat dat die “vlees” ons beheer?
Ons sal moet diep delg want “ons” het die pad heeltemal beister geraak.
Kom ons wees beter mense en vervang “ons” met die volgende:
Ons wees vir 'n slag “Real” Ons kan mekaar VERDRA Ons GUN mekaar die heel beste Ons GROET mekaar sonder 'n fake smile Ons laat mekaar toe om te BLOM wanneer “ons” seisoen nie so bright is nie Ons hê LIEF sonder ophou Ons kan GLIMLAG sonder 'n agenda Ons praat oor die GOEIE en vermy die slegte Ons BOU mekaar op Ons RESPEKTEER mekaar Ons BEDINK die goeie Ons wees n SUSTER of BROER vir mekaar Ons spandeer ons TYD op dinge wat regtig saakmaak Ons kan LAG oor mekaar se foute Ons loop nie en skinder oor mekaar nie Ons GEE sonder om iets terug te verwag Ons is TEVREDE met wat ons het Ons LEWE asof vandag ons laaste is
Kom ons dink mooi volgende keer voor ons iets doen, kom ons plaas onsself in die ander een se skoene. Ons hoef nie ons seer op ander uit te laat nie, ons is beter as dit. Ons wêreld is reeds gebroke, ons hoef nie mekaar ook te breek met lelike woorde en optredes nie.
Daar is ‘n plek vir ELKE ster in die hemel
Ek besef God se genade is genoeg vir ons almal, en ek besef keer op keer dat God wil hê ons moet eerder gehoorsaam wees aan Hom en leef soos kinders van die lig.
Kom ons wees ‘n voorbeeld vir die volgende generasies sodat ons diep spore sal trap van weerlose liefde, hoop & omgee
Laat God toe om “ons” te verander, na Sy beeld.
Kom ons voed mekaar met fynmeel, olie & heuning, soos God ons voed, elke dag.